Front van Bravade

Vandag het ek ‘n ontdekking oor myself gemaak … nog steeds ‘n skugter natuur!

 

Vir byna 30 jaar is ek en my man in voltydse diens van die Here. Ons verbintenis met Kwasizabantu Sending het ons reg oor die wereld na verskeie lande geneem. Ons het vele internationale lughawens betree en met soveel vliegtuie oor oseane heen beweeg. Ons het tuisgegaan in vele huise van verskillende volke, hulle gasvryheid en liefde beleef. Ons was in talle kerke oor die wereld heen waar my man moes preek. Ons het duisende mense ontmoet. Ons het saam met onnoembare hoeveelheid mense gesit terwyl hulle hulle harte uitstort en ons saam met hulle kon bid. Ook ek moes vele male voor gehore optree, in huise, kerke en sale.

Nou is ons vir die afgelope maande in Amerika besig om te help om ‘n tak vir die sending op die been te bring. Dis nie maklik om iets te begin nie. Erlo Stegen het gese dat waar die Here werk, daar kom doen die duiwel ook sy vuil werk. Satan wil altyd die “kindjie Jesus” vermoor pas nadat Hy gebore word. Hierdie klein gemeente, so broos in sy kinderskoene, maar die aanslae van die duiwel maak dinge so moeilik!

Maar, om terug te kom tot my ontdekking. Ek is tans in Kanada op besoek aan my kinders. Omdat ek nie veel het om te doen soos ek gewoond is nie, het ek ‘n groot behoefte aan oefening. Die beste wat ek kan doen is om te gaan stap – maar dis stad en die strate woel van voertuie en mense. Ek voel so uit my plek! Dis snaaks, is dit omdat dit ‘n vreemde land is? Ek voel so “bedreig” op die sypaadjies met soveel motors wat verby spoed. Ek voel so ongemaklik, byna asof ek op ‘n vreemde planeet is, tussen al die mense van verskillende kulture. Maar, ek is tog gewoond aan baie kulture. Ek sien ek lyk beslis anders. Skielik is ek bewus van my klere – is dit te helder. Ek verskil totaal van al die ander om my heen! Ek dink nie ek het vandag ‘n vrou met ‘n rok aan gesien nie. Almal dra noupassende “leggings”. Ek voel behoorlik soos ‘n vreemdeling. Ek sien niemand wat grys is soos ek nie. Almal se hare is donker gekleur. Meeste mense hier is Chinese of Koreane en ‘n paar Indiers. In hierdie omgewing is nie veel van my soort nie. Ek voel nie bang nie, net uit. Vreemd. Wil net terug na die woonstel toe!

Terwyl ek so stap wens ek dat ek tog net een Christen kan raakloop. Ek verlang intens na die huis van die Here en die samesyn met gelowiges.

Ek besef een ding – my lewe op die sending was baie beskut. Dit was totaal doelgerig. Daar was geen tyd om te verspeel nie. Die eerste jare in die kantoor by DSS was baie beskut, maar erg druk. Die mense saam met wie ek gewerk en geleef het, het dieselfde doelwit gehad. Ons was een van hart en denke. Daarna was ek vir sewe jaar in die kantoor by CCE. Dit was so beskut. Daar was ek elke dag onder die beskerming van my man, saam met wie ek gewerk het. Hy was lektor in verskeie vakke. Op ‘n stadium was hy waarnemende rektor asook lektor, daarna administrateur asook lektor. Hy het permanent studeer en voorberei vir lesings en vraestelle gemerk. Ons het nie juis iewers heen gegaan nie, tensy ons iewers moes gaan waar hy dienste moes gaan hou. Ek was altyd baie beskut tussen die Christene. Almal het die Here lief en het net een doel voor oe – om Hom te behaag.

En nou, alleen by die kinders in Kanada vir meer as ‘n maand, moet ek ontdek dat ek uit-voel in hierdie wereld. Op byna 63 jarige leeftyd wonder ek skielik wat is my taak op hierdie aarde. Ek het nooit veel talente ontwikkel nie, want daar was altyd soveel besoekers wie ek bedien het en het nooit tyd gehad om myself te ontwikkel in ‘n spesifieke rigting nie. My lewe was so verweef in my man se roeping, dat ek nou nie eens weet hoe om iets op my eie te doen nie. Ek wou altyd graag vrouens toespreek. Maar, watter vrouens. Hoe moet ek hulle bymekaar kry? En sou ek regtig daarvoor kans sien? Vandag se vrouens is so professioneel en seker van hulself. Ek het altyd soveel berading met meisies en vrouens gedoen en saam met hulle gebid terwyl ons in SA in die sending was. Ek het boodskappe in vele huise in die swart gebiede gelewer en mense bemoedig. Dit was so vervullend. Ek het niks meer nodig gehad nie. Maar nou, in Tulsa, met geen ryding nie, kom ons nerens nie. Dis weereens erg beskut.

Tja, ek het sowaar die bietjie selfvertroue wat ek met inspanning opgebou het en waaraan ek so hard gewerk het deur my lewe, verloor. Ek was maar altyd ‘n skaam mens. Wil eerder wegkruip as te voorskyn kom. Verkies om op die agtergrond te beweeg. Ek moes nog altyd myself staal, my kop oplig en ‘n glimlag opsit, om die lewe vierkantig in die oe te kan kyk. ‘n Front van bravade voorhou. Dit sal seker maar altyd so wees.

Maar, al voel ek wat, die Here het vir my hierdie lewe geskenk en ek moet dit voluit lewe uit eerbied vir Hom. Ek sal voortgaan om my Here met my hele hart dien, en elke tree met my hand in Sy deurboorde hand doen. En as Hy my iewers wil gebruik, sal ek dankbaar wees.

Here, gee my tog oë om die geleenthede te sien wat U op my pad bring en gee my die moed om vir U ‘n getuie te wees. (30 Maart 2018)